Michael III van Bisantium

Michael III
Keiser van die Bisantynse Ryk

Bewind 842867
Bynaam Michael die Dronkaard
Dinastie Frigiese
Gebore 19 Januarie 840
Oorlede 23/24 September 867
Voorganger Theophilus
Opvolger Basilius I die Masedoniër
Eggenote Eudokia Dekapolitissa
Metgesel Eudokia Ingerina
Vader Theophilus
Moeder Theodora

Michael III (Grieks: Μιχαήλ Γʹ; 19 Januarie 840 – 23/24 September 867) was die Bisantynse keiser van 842 tot 867. Hy was die derde en laaste keiser van die Frigiese Dinastie en was ook bekend as Michael die Dronkaard. Hierdie neerhalende naam (ὁ Μέθυσος) is aan hom gegee deur latere historici wat lojaal was aan die Masedoniese Dinastie, maar moderne historici het sy reputasie in ’n mate herstel en glo hy het ’n belangrike rol gespeel in die opbloei van Bisantynse mag in die 9de eeu.[1][2]

Michael was die jongste kind van keiser Theophilus en sy vrou, Theodora. Hy is reeds in 840 deur sy pa as medekeiser gekroon en was pas twee jaar oud toe hy op 20 Januarie 842 alleenheerser word.

Terwyl hy minderjarig was, was sy ma, haar oom Sergios en die minister Theoktistos die regente. Terwyl die mense om hom om mag baklei het, het Michael al hoe meer vertrou op sy oom Bardas en aan hom die titel caesar gegee, wat net onder die keiser self was. Hy het hom toegelaat om Theoktistos in November 855 te vermoor. Met Bardas se steun asook dié van ’n ander oom, generaal Petronas, het Michael die regentskap op 15 Maart 856 omvergewerp en sy ma en susters in 857 na ’n klooster gestuur.[3]

  1. Gregory, p. 231
  2. Fossier, p. 315
  3. Treadgold, p. 450

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne